Die Persiese Golfstate bestaan uit ʼn aantal klein sjeikdomme, sultanate en emirate aan die oostekant van die Arabiese Skiereiland. Die lande het 'n ooreenstemmende geskiedkundige agtergrond en bevind hulle teenswoordig ook in dieselfde ekonomiese, politieke en sosiale omstandighede. Benewens die state Bahrein, Katar, Koeweit, Oman en die Verenigde Arabiese Emirate, kan Iran, Irak en Saoedi-Arabië ook in 'n wyer verband as deel van die groep gereken word (laasgenoemde 3 lande word nie in die artikel bespreek nie).
Vanweë die toename in die internasionale oliebehoeftes, het die klein staatjies 'n belangrike rol in die wêreldekonomie begin speel en die geweldige inkomstes uit olie het hulle daartoe in staat gestel om hulle feodale, onderontwikkelde samelewings binne enkele dekades in moderne, hoogs ontwikkelde gemeenskappe te omskep. Die hantering van hierdie ingrypende veranderings is een van die grootste probleme waarmee die lande te kampe het.
Vir die doeleindes van die artikel word die klein sjeikdomme, emirate en sultanate aan die Persiese Golf (of Arabiese Golf) aan die oostekant van die Arabiese skiereiland as die Persiese Golfstate beskou. In 'n wyerverband kan Irak, Iran en Saoedi-Arabië egter ook tot die groep gereken word. Omstreeks ten tye van die eeuwisseling het al die staatjies vriendskapsverdrae met Groot-Brittanje gesluit, maar in 1971 is die verdrae opgehef en het die state volle onafhanklikheid verkry. Hulle was naamlik Koeweit (Dawlat AI Koeweit, in 1961), die vorstedom Bahrein (Twee Seë), die sjeikdom Katar (Qatar), die sultanaat Oman en die Unie van Arabiese Emirate of Verenigde Arabiese Emirate (UAE).
Die unie is in 1971 deur die sjeikdomme Aboe Dhabi, Doebai, Sjarjah, Adzjman, Oem-at-Gawein en AI Foedjaira tot stand gebring en in 1972 het Ras al Chaima ook tot die unie toegetree. Die sultanaat Oman was tot in 1970 die sultanaat Maskat, en Oman het voor die totstandkoming van die federasie van emirate as die Seerowerkus, Verdragskus of Trucial States of Trucial Oman bekend gestaan. Die sjeikdomme, wat tot redelik onlangs arm en onderontwikkel was, se binnelandse grense is nooit presies afgebaken nie, aangesien dit in die onherbergsame woestyngebied van die Arabiese Skiereiland geleë is - die grense van Oman en die UAE loop deur die Roeb-al-Chali, die lewensgevaarlike dryfsandgebied (Leë Kwartier).
Die amptelike oppervlakte van die verskillende state kan dus slegs beraam word en dit het talle meningsverskille tot gevolg – selfs ten opsigte van die skiereiland Katar, wat 'n aantal klein eilandjies insluit, en die argipel Bahrein (hoofeiland 300 km2 plus 33 klein eilande). Vanweë die warm klimaat en die meestal onvrugbare en kalksteenagtige grond, is die bevolking langs die kus gekonsentreer, waar hulle hulle toespits op vissery (onder meer pêrelvissery), die verbouing van 'n beperkte aantallandbouprodukte (dadels, speserye) by oases, asook skaapboerdery en kameel- en perdetelery.
Soos die naam Seerowerkus aandui, was seerowery en smokkelhandel in goud 'n florerende bedryf voordat olie daar ontgin is (die Seerowerkus bestaan uit vlak kuswaters, eilandjies en koraalriwwe). Hoewel daar enkele oases in Koeweit voorkom, lê die vernaamstes meer suidwaarts. Die belangrikste oase van die UAE is die Boeraimi-oase (of AI Ain); in Oman is dit die AI Batna-oase noord van die Dzjebel Achdar (Groen Berge), en suid van die Arabiese skiereiland is die belangrikste oases in die omgewing van Salala in die provinsie Dhofar.